Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 05 AUGUSTUS 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike amateurradiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio, gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan afgelaai word van www.sarl.org.za en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vandag is (Naam en roepsein), op 145,725 MHz FM vanuit Pretoria, met herleidings op (7 066 en 3 695 kHz ESB). (Ander nuuslesers verander soos nodig)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutel van Clive Bean, ZS6AVP, verlede Woensdagoggend om 06:45 na n lang stryd teen kanker stil geraak het.

Ons innige meegevoel aan sy familie en baie vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

BESPREEK NOU VIR DIE RTA IN GAUTENG OP 18 AUGUSTUS

‘N KYKIE NA DIE VOLGENDE WRC IN 2015

SARL HF-KOMPETISIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

BESPREEK NOU VIR DIE RTA IN GAUTENG OP 18 AUGUSTUS

Besprekings is oop vir die Radiotegnologie-in-Aksie Simposium wat op 18 Augustus by die NARS gehou sal word. Volle besonderhede van die gebeurtenis is verkrygbaar op die SARL se webblad www.sarl.org.za.

Indien U vooraf bespreek sal U outomaties deelneem aan ’n prystrekking vir die ARRL se boek “Basic Antennas”. As U ’n program verlang, stuur e-pos aan rta@sarl.org.za met RTA NARC in die onderwerplyn en ’n PDF-afskrif sal per e-pos aan U gestuur word.

‘N KYKIE NA DIE VOLGENDE WRC IN 2015

Volgens besluite van die pas afgelope 2012 konferensie is daar verskeie items op die agenda vir die Wêreld Radiokommunikasiekonferensie in 2015. Een daarvan is ‘n permanente toekenning aan die amateurdiens op of naby 5 MHz. Een moontlikheid is n sekondêre toekenning in die band 5,250 tot 5,450 MHz.

Die Internasionale Amateurradiounie sien so n toekenning as tussen die beste vir radioamateurs as gebruik vir 24-uur noodkommunikasie. Tot dusvêr is min van die publiek in terme van teenkanting gehoor.

Die SARL het aansoek gedoen vir ‘n lisensie vir toetsbedryf op 5 MHz om voortplantingstoestande vas te stel. OKOSA het die SARL onlangs meegedeel dat hulle kyk na 'n geskikte frekwensie en hulle verwag om binnekort 'n besluit te neem.

DIE SARL BENODIG VORIGE UITGAWES VAN RADIO ZS

Die SARL is in die proses om Radio ZS in boekvorm te bind, maar kort 'n aantal vorige uitgawes. Hier onder volg 'n lys van die uitgawes en indien u van hulle het, en bereid is om daarvan afstand te doen, tree asb. in verbinding met Francois, ZS6BUU, by 011 679 5260.

2003 Mrt/Apr, Mei/Jun, Jul/Aug, Sep/Okt
2004 Jan/Feb. Mrt/Apr, Mei/Jun
2009 Sep/Okt, Nov/Des
2010 Sep/Okt, Nov/Des
2011 Mei/Jun, Jul/Aug.

SARL HF-KOMPETISIE

Die SARL se HF-kompetisie vind vanmiddag van 15:00 tot 18:30 SAT plaas. Vind die volle besonderhede in die SARL Opdatering wat 'n paar dae gelede per e-pos uitgestuur is of besoek www.sarl.org.za.

Behalwe die sertifikaat en trofeë is daar nog pryse te wen. Die wenner sal 'n 2012 ARRL-handboek ontvang. Alle logstate sal deelneem aan 'n trekking vir die ARRL-boek "Basic Antennas". Daar is ook 'n kompetisie d.m.v. 'n foto vir ‘Die beste hok’. Stuur ’n hoë resolusie foto van jou in jou hok en daardeur sal jy deelneem aan 'n trekking vir 'n ARRL-Antennaboek. Stuur die foto aan saardt@intekom.co.za.


SWAINS EILAND DXPEDISIE

Barry, ZS1FJ, het SARLnuus ingelig dat hy 'n lid van die Swains Eiland DXpedisiespan is vanaf 5 - 19 September. Daar is 'n 20-operateurs, 16 Amerikaners, 1 Sweed, 2 Duitsers en 1 Suid-Afrikaner. Swains eiland is baie skaars en is nr 30 op die wêreld se mees gesoekte lys.

Dit is belangrik dat ZS stasies wat KH8S wil werk, Barry moet inlig van die kompasrigting van daardie deel van die Stille Oseaan na ZS. Die span het 'n teiken om 300 QSO’s per uur te werk. Barry vra ook die tye van die dag in UTC-tyd wanneer u verwag om KH8S te hoor. Dit is noodsaaklik. Kontak Barry by bf207@starhub.net.sg.

Die span vlieg van Honolulu na Pago Pago in American Samoa en dan op 'n gehuurde boot vir 'n 24 uur reis na Swains eiland. Daar is hoegenaamd geen kommunikasie nie. Hulle sal daar met sewe stasies aktief wees. Die span sal in tente wees en het twee kokke wat saamgaan van Pago Pago. Na die uitstappie sal die boot die span optel en terugkeer na Pago Pago, en hulle vlieg dan terug na Honolulu.

Barry sê hy neem 'n Suid-Afrikaanse vlag vir ZS1FJ roepsein en 'n Singaporevlag vir sy 9V1FJ roepsein saam.

Logs sal elke dag via satelliet opgelaai word. As u 'n rekenaarstelsel met Clublog het, sal u die prentjie en die naam van die operateur sien. Die DXpedisie se webwerf is www.nh8s.org.

IVICA CVETKOVIC, YU1YU, VERKOSE EERSTE MINISTER VAN SERWIË

Die voormalige Serwiese Minister van Binnelandse Sake, Ivica Dacic, YU1YU, is op 27 Julie gekies as die land se nuutste Eerste Minister. Hy volg Mirko Cvetkovic op wat gedien het as Eerste Minister van Serwië tussen 2008 en 2012. Dacic is die leier van die Sosialistiese Party van Serwië; vanaf 2008 tot en met sy verkiesing as Eerste Minister, het hy as Eerste Adjunk Eerste Minister, sowel as Minister van Binnelandse Sake gedien. In Maart 2012, het Serwië 'n kandidaat vir lidmaatskap in die Europese Unie (EU) geword.

Dacic is 'n lid van die Amateur Radio-unie van Serwië (SRS), Serwië se IARU lidvereniging en dit word gesê dat hy 'n lid van sy plaaslike klub, YU1AAV is. Die klub is in 1978 gestig as een van nege afdelings van die Novi Beograd (Nieu-Belgrado) Amateurradioklub, YU1FJK. Volgens sy webwerf is YU1AAV se primêre doel om kinders Morsekode en amateurradio rigtingpeilingvaardighede (ARDF) te leer. "In die 1990's het ons oorlog, sanksies en sosiale krisisse gehad, maar dit het ook die goeie geleentheid geskep om kinders van die strate weg te kry en om amateurradio te leer. Dit was die jare toe die meeste kinders van die omgewing die kursus voltooi het om hul basiese amateurlisensie te kry."

Voor sy verkiesing as Eerste Minister, het Dacic van 1992 tot 2000 gedien as die woordvoerder vir die Sosialistiese Party van Serwië (SPS), sedert Desember 2006 dien hy as die President van die SPS. Hy het 'n graad in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Belgrado. Hy is vlot in beide Engels en Russies, en is getroud en die vader van twee kinders.

WEN 'n GROOT BLOMMERANGSKIKKING IN DIE JD-NAELLOOP

Ter viering van Vrouedag bied die SARL sy jaarlikse Jong Dame Naelloop op 9 Augustus van 11:00 tot 12:00 SAT aan. Die logstate van die JD’s wat aan die gebeurtenis deelneem sal ingeskryf word vir 'n prystrekking vir 'n pragtige blommerangskikking wat by die wenner se huis afgelewer sal word. Om te kwalifiseer, sluit asb. jou woonadres op die logstaat in.

Verslaguitruiling tussen deelnemers is 'n seinverslag en YL (vir JD) of OM (vir ou man). Die frekwensies vir die naelloop is 7 060 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz. Kontakte tussen JD-stasies tel 5 punte, tussen JD- en OM-stasies 3 punte en kontakte tussen OM-stasie tel 1 punt.

Logstate en opsommings moet binne 7 dae na die kompetisie, dit is 16 Augustus, per e-pos aan zs4bfn@netactive.co.za of aan die Bloemfontein RAK, Posbus 12104, Brandhof, 9324, ingestuur word.

HET U U LEDEGELD VIR DIE SARL BETAAL?

Indien u nognie u SARL-ledegeld vir die huidige boekjaar betaal het nie, doen dit asb. so gou moontlik ten einde te verhoed dat u lidmaatskapvoordele verloor. Rekenings is gedurende Julie uitgestuur en betalings was op 1 Julie verskuldig. Indien u nie 'n rekening ontvang het nie, of as die rekening verlore geraak het, skakel asb. vir Mariska op Maandag by 011 675 2393 of stuur 'n e-pos vir haar na admin@sarl.org.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak laag tot gematig is. Heelwat sonvlekke is tans sigbaar maar die kanse vir groot fakkels is gering.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 95.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die hoër sonaktiwiteit gaan 10 m openinge meer gereeld voorkom.

Die beste resultate gaan behaal word deur vanmiddag se SARL HF Enkelsybandwedstryd op 20 m af te skop.

Kontakte tussen al die divisies sal moontlik wees voordat 40 m later die middag oorneem. Die wedstryd kan op 80 m afgesluit word.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

5 Augustus – dit is vanmiddag, SARL HF-kompetisie, 13:00 tot 16:30 UTC.
9 Augustus – Jong Dame Naelloop van 11:00 tot 12:00 SAT.
15 Augustus – Die Elektroniese Kommunikasie Wysigingskrif. Stuur u kommentaar aan secretary@sarl.org.za.
16 Augustus – laaste dag vir insending van JD-naellooplogstate na zs4bfn@netactive.co.za of Bloemfontein RAC, Posbus 12104, Brandhof, 9324.
18 Augustus - RTA in Gauteng, bespreek nou om aan ’n bygevoegde prystrekking te kan deelneem.
19 Augustus - SARL HF digitale kompetisie
26 Augustus - SARL HF GG-kompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies, waarin radioamateurs en kortgolfluisteraars sal belangstel, in te stuur na www.sarl.org.za/newsinbox.asp Stuur dit - indien moontlik - in Engels sowel as Afrikaans, nie later as die Donderdag voor die uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Today", wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n spraakrepliekuitsending deur Dick ZS6RO. Besoek www.sarl.org.za vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS. Klik op 'Amateur Radio Today', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings wat nie op amateurfrekwensies uitgesaai word.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003